Sout en Hartgesondheid (Bloemfonteinse dieetkundige Sonelle van der Linde)

Radio Rosestad, Vrydag, 17 Oktober 2014, 9:30-10:00

Deel 1

Anton: Vraag 1

Hoeveel sout behoort 'n mens in te kry per dag?

Sonelle: Ons almal weet goed hoeveel groente en vrugte ons daagliks behoort te eet (5 'n dag), maar om een of ander rede is die hoeveelheid sout nie op almal se lippe nie. Ek dink dis omdat sout nie so maklik getel kan word soos groente en vrugte nie. As 'n mens getalle praat is die aanbeveling een teelepel sout per dag, maar 'n mens gaan tog nie elke môre 'n teelepel afmeet en bietjies-bietjies oor jou kos gooi soos die dag verloop nie. Daarom het ek 'n paar praktiese wenke vandag vir ons luisteraars om vas te stel of hul te veel sout eet. Kry solank 'n skryfding gereed.

{Musiek}

Deel 2

Anton: Vraag 2

Hoe gaan 'n mens te werk om uit te vind of jy te veel sout eet?

Sonelle: 'n mens kan bepaal hoeveel sout jy inneem deur die volgende vrae te beantwoord, en dit is nou waarvoor die pen nodig is, sodat jy jou antwoorde kan neerskryf en 'n punt kan uitwerk aan die einde: indien jy ja antwoord gee jouself 1 punt, indien jy nee antwoord gee jouself 0.

Die eerste vraag: Eet jy meer as twee maal per week wegneem-etes of by 'n restaurant?
Eet jy meer as 2 keer per week kitskos of geriefsetes wat net vinnig in die oond of mikrogolf gedruk kan word?
Eet jy gereeld blikkieskos?
Gooi jy uit gewoonte sout oor jou bord kos selfs voordat jy geproe het?
Peusel jy gereeld aan gesoute neute, biltong, sout-beskuitjies, grondbone en sal jy sommer 'n groot pak chips sit en op eet, veral oor naweke en voor die tv?
Is daar gereeld geprosesseerde vleis soos ham, weense worsies, koue vleis en gerookte hoender in die yskas?
Is jy baie lief vir kaas en sal dit sommer oor enige iets gooi?
Gebruik jy daagliks soppoeier en speserymengsels om mee kos te maak?
Eet jy minder as 5 groente en vrugte per dag?

Anton: Vraag 3

Nou toe tel jul antwoorde op sodat Sonelle vir ons kan verduidelik wat jou telling sê. Onthou asb dat hierdie 'n voorspelling is en dat 'n een tot een konsultasie die akkuraatste sal wees omdat alle vrae se antwoorde nie noodwendig dieselfde gewig sal dra as in vandag se oefening nie.

Sonelle: Ja verseker. Indien jou telling tussen 0 en 2 is, beteken dit dat jou soutinname baie goed lyk, ek sou nie bekommerd gewees het nie. Jy het die groen lig!
Indien jou telling tussen 3 en 5 is sou ek sê jy moet versigtig wees, dit lyk vir my jy eet te veel sout. Jy het die oranje lig.
Indien jou telling 6 tot 9 is kan ek nou al vir jou ssê, jy eet heeltemal te veel sout!! Jy het die rooi lig. Jy moet leefstylveranderinge maak. As dieetkundige is dit my werk om vir jou alternatiewe te gee wat steeds by jou lewe sal in pas. Hierna sal ek 'n paar wenke met julle deel.

{Musiek}

Deel 3

Anton: Vraag 4

Sonelle ek dink heelwat van ons het vanoggend besef dat ons die hulp van 'n dieetkundige nodig het om soutinname te beperk. Gee asb vir ons praktiese wenke sonder om nou alles waarvoor ons lief is af te skryf.

Sonelle: Ek hoop ek kan die luisteraars se persepsie van dieetkundiges 'n bietjie verander, my pasiënte kom altyd met baie swaar gesigte by my aan en dink hul lewe is verby en kan van nou af net slaaiblare eet. Êrens deur die konsultasie begin hul darem ontspan wanneer hul besef dat gesond eet einklik baie lekker kan wees. Hier is my wenke om minder sout te eet:

Eet meer groente en vrugte, dit is hoog in kalium en kalium het die teenoorgestelde effek as sout op die liggaam. Wanneer jy kosmaak let op na die houertjies, Robbinson is baie oulik en het hul kruie en speserye verskillende kleure proppies gegee. Die groen, oranje en rooi proppies kan jy soveel as wat jy wil van gebruik, dit is soutvry. Die bruin proppies bevat sout en moet dus spaarsamig gebruik word. Een goue reël, indien iets sout proe, dan is dit hoog in sout, daar is nie iets anders wat jy kan gebruik om daardie sout smaak te gee nie, al is dit geel sout, pienk sout of sogenaamde gesonde sout, dit bly steeds sout en in groot hoeveelhede is dit nadelig vir jou liggaam.

Van kleins af word ons geleer om sout in kos te gooi omdat dit die smaak uitbring. Het jy geweet dat suurlemoensap dieselfde eienskap het? Gaan probeer dit gerus, gooi 'n tikkie sout in die kospot en ook 'n paar druppels suurlemoensap, jy sal gou agterkom dat jy nie naastenby soveel sout nodig het soos wat jy gewoonlik ingegooi het nie.

Anton: Vraag 5

Waar kan ons luisteraars jou in die hande kry om 'n afspraak met jou te maak?

Sonelle: Julle kan my gerus skakel by 076 338 5367 of 'n epos stuur na sonellev@gmail.com.

Contact Person:


Sonelle van der Linde
69 Morningside
1 Isak de Villiers Street
Langenhovenpark
Bloemfontein
South Africa

Contact Details:


Cell: 076 3385367
or
Send me an