Eet jou kilojoules, moenie dit drink nie

deur Sonelle van der Linde

Het jy al ooit daaraan gedink dat drinkgoed ook kilojoules bevat? Baie daarvan! Alkoholiese drankies, gaskoeldrank, aanmaakkoeldrank, vrugtesap, gegeurde water... Doen jouself 'n guns en vergelyk die kilojoule-inhoud van 100%-vrugtesap, appletizer en coke, jy sal nie spyt wees nie.

Kilojoules (kJ), ook bekend as kalorieë, vertel vir ons wat die betrokke kossoort se 'vetmaak' potensiaal is. Wanneer jy te veel kilojoules inkry as wat jou liggaam nodig het, sal jy gewig optel en anders om! Kilojoules is goed, ons liggame het dit nodig om te oorleef, maar te veel hiervan op 'n gereelde basis veroorsaak die 'verskoning-soek' siekte van ons tyd, naamlik oorgewig.

Drie redes waarom kilojoules nie gedrink moet word nie:
  1. kJ gedrink maak nie so versadig soos kJ geëet nie, maar 'n kJ bly 'n kJ en maak ewe vet. Die liggaam het 'n meganisme wat honger en versadiging reguleer, hierdie meganisme kan beskadig word deur vreemde diëte, ongesonde eetgewoontes en gereelde ooreet episodes. Hierdie komplekse meganisme maak staat op tydsduur om versadiging te registreer. 'n Mens kan baie vinnig 'n glas appelsap drink (vir ±600kJ), maar nie so vinnig drie appels eet nie (ook ± 600 kJ).

  2. Leë kJ: Dit beteken dat die kossoort kJ bevat maar nie vesel, vitamiene en minerale nie. Ons almal weet om verwerkte en verfynde kos te vermy, maar het jy al ooit daaraan gedink dat dit vrugtesap ook insluit? Definitief! Vrugtesap, selfs dié met pulp, 100%, bevat feitelik geen vesel en is dus hoogs verfynd en verwerk.

  3. Byvoegings: wees versigtig vir fruktose, dit word hoofsaaklik gebruik om gegeurde en vitamienwater te versoet. Bygevoegde fruktose mag lei tot insulienweerstandigheid (wees gerus, fruktose wat natuurlik in vrugte voorkom, sal nie insulienweerstandigheid veroorsaak nie).
Om dit prakties op te som: Wanneer jy iets drink, sorg dat dit omtrent geen koolhidrate of kilojoules bevat nie, voorbeelde hiervan is water, groen-, rooibos- en swarttee en koffie. Drink laasgenoemde drankies wat kaffeïen bevat in matige hoeveelhede.

Die uitsondering op die reël is melk. Melk bevat koolhidrate en kilojoules, maar kan sonder twyfel steeds gedrink word. Wanneer jy wil gewig verloor moet jy in gedagte hou dat volroommelk meer as dubbeld die hoeveelheid kilojoules bevat as vetvrye melk. Drinkbare jogurt is ook uit, 'n botteltjie kan tot drie keer die kJ-inhoud van 'n houertjie eetbare jogurt bevat.

Dieetkoeldranke wat kunsmatig versoet is, kan ook goed wees, let net op of dit nie jou drang na soetgoed verhoog nie, indien wel - vermy liewer.

Alkoholiese drankies is oorlaai met kJ, dit is nie net die koolhidrate nie, maar ook die alkohol self wat sorg vir 'n hoë kJ-inhoud. Daar is gesonder alternatiewe vir kJ-belaaide alkoholiese drankies: kyk vir die woord "light" op die verpakking van wyn en bier. Die kJ-inhoud is aansienlik laer aangesien die drankies minder koolhidrate en alkohol bevat. Hou egter steeds by die aanbevole 1 drankie (120ml wyn/botteltjie bier) vir vroue en 2 drankies (240ml wyn/2 botteltjies bier) vir mans.

Vermy koffieverromers, die hoeveelheid kilojoules en versadigde vet is nie die smaak werd nie! Gebruik melk.

Die antwoord bly maar water, kraanwater, mineraalwater, stil of borrelend. Maak jou eie gegeurgde water, sny aarbeie, suurlemoen, komkommer of mentblare, dis heerlik verfrissend en lyk idillies.

Contact Person:


Sonelle van der Linde
69 Morningside
1 Isak de Villiers Street
Langenhovenpark
Bloemfontein
South Africa

Contact Details:


Cell: 076 3385367
or
Send me an