Eet jouself mooi

deur Sonelle van der Linde

Vrouwees is mooiwees en daar is niks mooier as 'n vrou wat goed versorg en goed gevoed is nie. 'n Groot deel van mooi wees, is ook gesond wees. Praktiese idees om jou mooier en gesonder te laat, ons sê nie verniet dat skoonheid van binne kom nie...

Eet Jouself Mooi!

Eet en wees vrolik, vroulik, jonk

Ons het die groen lig om te eet! Eet al wat vars en kleurvol is, uit die grond groei en aan 'n boom hang. Mense wat hope groente en vrugte eet is gelukkiger as dií wat hoop op 'n wondermiddel uit 'n bottel. Ontspan 'n bietjie en vind 'n goeie balans tussen vleis, stysel en kraakvars lekkertes, dit is glad nie nodig om 'n vegetarieër te word of stysel van die inkopielys te vee nie. Die 5-'n-dag-reël is aan ons baie bekend, maar met ons gejaagde leefstyl en verhoogde blootstelling aan gifstowwe, is dit glad nie 'n slegte idee om ons groente en vrugte inname na 7 tot 9 porsies te verhoog nie. Moenie dat die getal jou afskrik nie ('n halwe koppie is 1 porsie), fokus liewer op verskeidenheid as om hare te kloof oor hoeveelheid.

Die dae is verby wat vroue moet honger ly en brandmaer wees, jy is op jou vroulikste as jy 'n individuele, innerlike en metaboliese balans bereik en kan handhaaf. Vir die meeste vroue is hierdie balans slegs 'n onbereikbare ideaal, maar onthou daar is kundiges om jou hiermee te help - om beter doelwitte te stel en 'n resep te kry wat vir jou werk.

Eet jouself jonk! Vroeë veroudering neem oor wanneer ons selle nie genoeg voedingstowwe inkry om die gifstowwe te neutraliseer en uit te skei nie. Fokus op kossoorte met die diepste kleur om die meeste anti-oksidante te verseker. Fokus ook op verskeidenheid en skilder die mooiste prentjies in jou bord met pers eiervrug, rooi beet, oranje botterskorsie, groen broccoli, swart bessies en pienk granaat. Elke dag! Ons staar ons daagliks blind aan die prys van vars aspersies en kersies, maar spandeer graag tien keer meer aan parfuum...

Eet jou ingewande gesond

Vroue gesondheid is sinoniem met borskanker bewusmaking, nie om die kollig daarvan te steel nie, maar kom ons kyk na 'n ander tipe kanker - kolonkanker (dikdermkanker). Kolonkanker is die tipe kanker wat die meeste deur leefstyl en eetgewoontes aangewakker word en die 3de meeste gediagnoseer word van al die kankers.

Kanker kan veroorsaak word deur dinge wat die liggaam herhaaldelik irriteer, soos rook en oormatige alkohol. Die gedeeltes wat daarmee in aanraking kom soos lippe, tong en keel, is waar die kanker eerste ontstaan. Dieselfde geld vir kolonkanker, indien die derm herhaaldelik geïrriteer word, kan dit later in kolonkanker ontaard.

Versorg jou ingewande so: (onthou dat hierdie slegs die punt van die ysberg is, daar is nog vele meer wat kan gedoen word)
  1. Eet daagliks volgraanprodukte, hoe growwer en nader aan die natuur, hoe beter. Verfynde koolhidrate soos wit meel, rys en pasta moet vervang of aangepas word deur lensies, bone, semels en vlokkies by te voeg. Voedingstowwe in volgraanprodukte asook die vesel, beskerm direk teen kolonkanker. Oppas om te veel te eet, sodat jy nie gewig optel nie.

  2. Behandel jou prikkelbare derm/spastiese dikderm deur die korrekte eetplan spesifiek daarvoor te volg. Drink genoeg water en wees aktief om spanning te verlig. Vermy sover moontlik alle lakseermiddels, maak nie saak hoe natuurlik dit is nie, dit rig permanente skade aan.

  3. Probiotika kom voor in gefermenteerde suiwelprodukte soos jogurt, dikmelk en kaas. Die hoeveelhede wat ons inkry is selde genoeg aangesien hierdie goeie bakterieë vernietig word deur hitte en ons anti-bakterieë-behepte-leefstyl. Vul goeie bakterieë (probiotika) aan, dit voed die ingewande en sorg vir beter voedingstofopname. Jy kan soveel goeie kos by jou mond insit soos jy wil, as dit nie opgeneem word deur die liggaam nie, beteken daardie goeie kos niks!

Wenke om meer groente en vrugte in te kry


Bederf-ete vir 'n vrou:

Geurige mosterdhoender (4 porsies)
300g hoenderborsies, sonder vel en been in repies gesny
1 groot ui, fyngekap
¼ t knoffel
½ k gerasperde wortel
½ k gerasperde botterskorsie
1 t mosterdpoeier
1 t heelkorrelmosterd
½ blokkie/potjie hoenderaftreksel van jou keuse
½ k mayonnaise
½ k natuurlike laevet jogurt
2/3 k geblikte botterbone

Soteer ui, knoffel, hoender, wortel en botterskorsie in canola-olie totdat die ui deursigtig is. Voeg die res van die bestanddele by en laat prut totdat die sous verdik en die hoender gaar is. Geur met vars suurlemoensap en -skil, sout en swartpeper na smaak. Sit voor saam met basmati rys en 'n groen slaai.

Contact Person:


Sonelle van der Linde
69 Morningside
1 Isak de Villiers Street
Langenhovenpark
Bloemfontein
South Africa

Contact Details:


Cell: 076 3385367
or
Send me an